Welkom by Upington Tuisonderwys Ondersteuningsgroep se Nuusblad
Die Upington Tuisonderwys Ondersteuningsgroep (TOG) is hierdie jaar vyf jaar oud. Ons doelwit is om 'n netwerk van gesinne daar te stel wat vir mekaar as 'n ondersteuningsstelsel kan optree. Die struktuur is informeel en die byeenkomste is dikwels net 'n platform waar ouers hulle vrae aan ander in 'n soortgelyke posisie kan stel, sukses verhale deel of sommer net kom sit om inspirasie uit mekaar se geselskap te verkry. Ons probeer een maal per maand bymekaar kom, gewoonlik by iemand se huis. Ons reel drie of vier uitstappies per jaar en enige lid kan daarvoor verantwoordelikheid neem.
Ons vra 'n maandelikse lidmaatskap fooi van R40 per gesin. Hiermee het ons een jaar vir Leendert van Oostrum, die Voorsitter van die Pestalozzi trust (regsfonds vir tuisonderwys) Upington toe gebring vir 'n werkswinkel. 'n Gedeelte van die geld word ook beskikbaar gestel aan die maandelikse gasvrou van die byeenkoms en ons brei graag ons biblioteek uit met enige oorblywende ledegeld. Ons beplan om elke jaar 'n motiverende tuisonderrig spreker Upington toe te bring. Sonelle Devenier dien as tessouriere en 'n volledige lys van uitgawes en inkomstes kan by haar besigtig word.
Een van die grootste funksies van die Upington TOG tot dusver was om as informasie stasie te dien. Ouers wat bekommerd is oor hulle kinders se opvoeding bel van Upington en omgewing om meer oor tuisonderrig uit te vind. Vir hierdie doel het ons 'n biblioteek met boeke en DVD's oor tuisonderrig begin wat beskikbaar is vir enige persoon wat meer oor die onderwerp wil weet.
Tot dusver het die lede van die Upington TOG uit 'n diverse klomp families bestaan. Nie een familie het presies dieselfde kurrikulum gevolg nie en dit is vir ons belangrik dat families uit alle kurrikulum-oorde hier 'n holtetjie vir hulle voete kan vind.
Die doel van hierdie nuusblad is om kommunikasie te vergemaklik. Belangrike inligting sal in detail op die blad geplaas word, sodat almal altyd op hoogte is en die hoeveelheid sms'e terselftetyd verminder word.
As jy graag wil aansluit by die Upington TOG, skakel gerus vir Lisl Fair by 083659177 [email protected] of vir Sonelle Devenier by [email protected].
Vir die kontakbesonderhede van ander tuisonderwys kundiges, kurrikulum verskaffers en dienste, klik hier.